PSES CAR 000147
Award  Date:
27 June 1999
Case Number: PSES CAR 000147
Province: Western Cape
Applicant: A DELPORT
Respondent: DEPARTMENT OF EDUCATION
Issue: Unfair Dismissal - Constructive Dismissal
Venue: KAAPSTAD
Award Date: 27 June 1999
Arbitrator: BEN SCHOEMAN
EDUCATION LABOUR RELATIONS COUNCIL

CASE NUMBER : PSES CAR000147 WC



In the arbitration between:

A DELPORT APPLICANT

and

WES KAAP ONDERWYSDEPARTEMENT (WKOD) RESPONDENT



ARBITRATION AWARD

1 . VERHOOR EN VERTEENWOORDIGING


1.1 Die arbitrasie-verhoor was oorspronklik geskeduleer om op 21 Junie 1999 plaas te vind, maar is deur die arbiter na 25 Junie 1999 uitgestel nadat die klaer suksesvol geargumenteer het dat hy nie behoorlik vooraf kennis daarvan ontvang het nie, en dus nie verteenwoordiging of getuies kon bekom nie.
1.2 Die arbitrasie-verhoor het toe op 25 Junie 1999 in Kaapstad plaasgevind, in terme van die arbitrasie-ooreenkoms tussen die partye tot die RAVO, soos vervat in Resolusie 7 van 1997 (Aanhangsel B).

1.3 Die klaer is behoorlik deur Mnr D D Johnson van die SADOU verteenwoordig, en die WKOD deur Mnr C Esau.

2 . KWESSIES

2.1 Die kwessie in geskil behels ‘n besluit van die Beheerliggaam van Rosendal Primêr om nie vir Mnr Delport op die kortlys van aansoekers vir die pos van Adjunk-hoof te plaas nie.

2.2 Die gronde vir die klaer se bewering van ‘n onbillike arbeids-praktyk, soos uiteengesit tydens die verhoor, kom daarop neer dat die Beheerliggaam:

2.2.1 Onbevoeg was;

2.2.2 Inkorrek opgetree het in hul bepaling van kriteria vir die kortlysting, en dat die kriteria ontoerykend was;

2.2.3 Dat die Skoolhoof sy posisie op die beheerliggaam misbruik het om die klaer te benadeel;

2.2.4 Dat die klaer onbillike behandeling vanaf die Beheerliggaam ontvang het.

2.3 Nadat die arbiter ‘n mislukte poging aangewend het om ‘n ooreenkoms tussen die partye te fasiliteer, het die arbitrasie in terme van die Arbitrasie-ooreenkoms voortgegaan.

2.4 Ek is die taak opgelê om te bepaal of the Beheerliggaam en die WKOD billik en prosedureel korrek opgetree het toe daar besluit was om nie Mnr Delport op die kortlys vir die betrokke pos te plaas nie.

3 . FEITE IN DIE SAAK

3.1 Die volgende feite het tydens die verhoor uit die getuienis as gemene saak of effektief bewys te voorskyn gekom:

3.1.1 Die Beheerliggaam het op 19 November 1998 vergader om kriteria op te stel en ‘n kortlys van aansoekers te bepaal vir die benoeming van die persone om twee poste as adjunk-hoofde te vul (posnommers 0383 en 0384). Tydens hierdie vergadering is daar twee kortlyste opgestel, maar die klaer se naam het nie op enige van die twee kortlyste verskyn nie. Daar was in totaal 37 en 40 aansoeke vir die onderskeie poste ontvang.

3.1.2 Die SADOU en KPO het uitnodigings na die vergadering ontvang. Die klaer was een van twee opvoeder-verteenwoordigers in die Beheerliggaam. Hy was egter op die oggend van 19 November 1998 deur die Skoolhoof versoek om homself van die vergadering te verskoon, nadat hy bevestig het dat hy vir die poste aansoek gedoen het.

3.1.3 Die Beheerliggaam het tydens die vergadering eers op ‘n lys van agt kriteria ooreengekom, en daarna op twee kortlyste vir die onderskeie poste uit die totale groep aansoeke besluit. Die tweede opvoeder-verteenwoordiger, me Witbooi (wat as getuie vir die klaer opgetree het), het tydens die vergadering gepleit dat verdere kriteria gebruik moet word, maar hierdie versoek is van die hand gewys.

3.1.4 Me Witbooi en die klaer in hierdie saak het later geskille met betrekking tot die proses van kortlysting aanhangig gemaak. Tydens ‘n bemiddelingsproses op 12 Maart 1999 in Me Witbooi se saak het die WKOD en Me Witbooi as volg ooreengekom:

3.1.4.1 “The parties agree that the WCED will send a letter to the governing body informing them that an investigation will be carried out, regarding the way in which members of the governing body are performing their duties; (and) if it is deemed necessary:

The WCED also undertakes to carry out a training programme of all governing body members. This training shall be compulsory on all members of the governing body”.

4 . DIE KLAER SE SAAK

4.1 Die klaer se argumente kan kortliks as volg uiteengesit word:

4.1.1 Onbevoedheid van die beheerliggaam:

Die klaer het geargumenteer dat die lede van die beheerliggaam oningelig oor die voorgeskrewe prosedures en prosesse vir benoeming voorgekom het. As gevolg hiervan is daar in Me Witbooi se saak ooreengekom dat die WKOD sal verseker dat hulle die nodige opleiding ontvang. Sulke opleiding het tot op datum nog nie plaasgevind nie. Voorts is daar nooit ‘n behoorlike ondersoek na hul bevoegheid gedoen nie.

4.1.2 Kriteria:
Die lys van kriteria, soos vervat in die notules van die vergadering van 19 November 1998 wat as bewysstuk ingedien was, was nie deur die beheerliggaam opgestel nie. Die kriteria is deur die skoolhoof opgestel en aan die vergadering voorgelê. Die kriteria was nie voldoende nie, en het nie behoorlik na die behoeftes van die skool omgesien nie. So is daar byvoorbeeld nie ‘n kriterium met betrekking tot geslagsgelykheid in senior poste by die skool neergelê nie.

4.1.3 Posisie van die skoolhoof op die beheerliggaam:

In terme van RAVO Resolusie 5 van 1998 moes die skoolhoof slegs as WKOD verteenwoordiger of as vakkundige raadgewer op die beheerliggaam dien. In die geval van Rosendal Primêr dien die skoolhoof egter as sekretaris van die beheerliggaam. As sulks kon en het hy ‘n invloed op besluite van die beheerliggaam uitgeoefen. Voorts het hy soms ook die posisie van voorsitter vervul deur die vergadering te lei.

4.1.4 Onbillike behandeling van die klaer:

In terme van Omsendskrywe 80/1996 moet daar voldoende en akkurate rekord van kortlysting-vergaderings gehou word. Die notule van die vergadering van 19 Novembe 1998 is nie akkuraat of voldoende nie. Dit maak bv geen melding van Me Witbooi se pleidooi/beswaar tydens die vergadering nie. Die notule behels boonop slegs drie bladsye, wat nie die inhoud van ‘n vergadering wat omstreks vier-en-‘n-half uur akkuraat kan reflekteer nie.

4.2 Die klaer se eerste getuie was Me Witbooi, ‘n onderwyser by Rosendal Primêre Skool, wie reeds vir sowat twee jaar as opvoederverteenwoordiger op die beheerliggaam dien. Haar relevante getuienis kan kortliks as volg opgesom word: Na haar mening is die beheerliggaam steeds nie voldoende bevoeg om die kortlysting of benoemingsprosesse korrek uit te voer nie. Hul het steeds nie die nodige opleiding ontvang nie.

4.3 Die skoolhoof het soms vergaderings gelei. Die lys van kriteria is nie tydens die vergadering opgestel nie, maar is deur die skoolhoof voorgestel. Sy het beswaar aangeteken en wou ‘n kriterium met betrekking tot geslagsgelykheid insluit. Haar versoek is onder leiding van die skoolhoof van die hand gewys. Sy het ook ‘n geleentheid tydens die vergadering versoek om te motiveer waarom drie ander aansoekers, waaronder die klaer een was, in die kortlys ingesluit moes word. Hierdie versoek is eweneens geweier. In haar opinie voldoen die kriteria nie daarin om die skool se spesifieke behoeftes na te kom nie. Daar was nie vooraf ‘n deeglike behoeftebepaling gedoen nie. Daar is nie duidelik aan beheerliggaamlede uitgespel hoe die kriteria geinterpreteer behoort te word nie.

4.4 In Me Witbooi se opinie voldoen die klaer wel aan die kriteria. Tydens die vergadering het lede van die beheerliggaam egter hul stemme vir elke aansoek uitgebring, en is die klaer op hierdie wyse nie vir die kortlys(te) gekeur nie.

4.5 Die skoolhoof is volgens Mr Witbooi nie iemand wat gereeld met mense konsulteer nie. Hy domineer besprekings en maak dikwels besluite self.

4.6 Die klaer het volgende self getuienis gelewer. Sy relevante getuienis kan as volg opgesom word.
4.6.1 Die klaer voel sterk dat hy op die kortlys(te) moes wees. Die kriteria was nie demokraties opgestel nie. Hy self moes deelgeneem het aan die opstelling van die kriteria.

4.6.2 Hy is reeds ses jar in diens by Rosendal Primêr, en is ‘n baie kundige onderwyser. Die skoolhoof sien hom as ‘n bedreiging, en sal dus sy posisie gebruik om hom te benadeel. Sekere lede van die beheerliggaam het nie die nodige kundigheid nie, en het verdere opleiding nodig.

4.7 Ten slotte het die klaer se verteenwoordiger geargumenteer dat die proses teen die klaer gediskrimineer het. ‘n Getuigskrif wat die skoolhoof aan die klaer voorsien het (ingehandig as bewysstuk), getuig van sy vaardighede en goeie karakter. Die klaer is vna die kans ontneem om te kompeteer vir benoeming tot die pos. Die komitee wat die kortlysting en uiteindelike onderhoude voltrek het, was nie wetlik bevoeg om ‘n benoeming te maak nie. So ‘n benoeming kon slegs deur ‘n volle beheerliggaam waarvan die klaer ‘n lid is, gedoen word.

4.8 Op grond hiervan het die klaer geëis dat ek die WKOD beveel om die beheerliggaam ‘n instruksie te gee om die benoemingsproses vir die twee poste te herhaal.

5 . DIE WKOD SE SAAK

5.1 Die WKOD het die volgende argumente aangebied:

5.1.1 Die SADOU en KPO is uitgenooi om die kortlysting-vergadering by te woon. Slegs die KPO het egter ‘n verteenwoordiger afgevaardig, en hierdie verteenwoordiger het sy/haar tevredenheid met die proses uitgespreek.

5.1.2 Die beheerliggaam was wetting bevoeg om die kortlys-tingproses te voltrek, en het op 19 November 1998 ‘n kworum by die vergadering gehad.

5.1.3 Dit was nodig om in hierdie geval kortlyste op te stel, aangesien daar so ‘n groot en onhanteerbare hoeveelheid aansoeke ontvang is. Sommige aansoeke moet dus uitval. Die doel met kortlysting was om die beste van die aansoeke uit te ken en slegs daardie aansoekers vir onderhoude uit te nooi. Die klaer se aansoek het op meriete nie daarin geslaag om op die kortlys te kom nie.

5.1.4 Die WKOD het die skoolhoof, Mnr Mahona, geroep om getuienis te lewer. Die relevante aspekte van sy getuienis kan as volg opgesom word:

5.1.4.1 Die proses van kortlysting in hierdie geval was na sy mening regverdig, deursigtig en objektief. Ses van die aansoekers was reeds in poste by Rosendal Primêr, maar nie almal van hulle (insluitend ‘n dienende Departementshoof) het die kortlys gehaal nie. Hy het persoonlik niks teen die klaer nie. Die beheerliggaam het besluit wie die kortlys(te) moet haal. Elke lid van die beheerliggaam het sy/haar eie opinie laat geld. Hy het hoegenaamd geen rol gespreel wat daarop gemik was om enige kandidaat uit te sluit nie.

5.1.4.2 Volgens die skoolhoof was die beheerliggaam wel bevoeg om die proses te hanteer. Sommige lede het reeds ervaring in soortgelyke prosesse gehad.

5.1.4.3 Die skoolhoof het nie self die kriteria opgestel nie. Hy het wel insette gelewer tydens die bepaling van die kriteria.

5.1.4.4 Hy het die notule op 19 November 1998 geneem. Na sy mening is die notule voldoende. Die doel van ‘n notule is nie om ‘n verbatim rekord van bespreking weer te gee nie, maar om besluite van die komitee te bevestig. Die betrokke notule was later deur die beheerliggaam bekragtig.

5.1.4.5 Die skoolhoof het erken dat hy wel soms leiding aan die vergadering gee, aangesien hy soms op grond van sy kennis en ervaring versoek word om dit te doen.

5.1.4.6 In sy eie opinie het die klaer nie die kortlys gehaal nie, bloot omdat hy nie een van die beste kandiate was nie.

5.2 Die WKOD het sy saak afgesluit deur as volg te argumenteer:

5.2.1 Die beheerliggaam was wetlik bevoeg om die proses te voltrek, en moes die klaer van die proses verskoon aangesien hy ‘n aansoeker was. Hulle het al die voorgeskrewe prosedures korrek gevolg, welke feit deur die KPO verteenwoordiger/waarnemer bekragtig was. Daar was geen persoonlike redes waarom die klaer nie die kortlys gehaal het nie, hy was bloot net nie een van die groep beste kandidate nie. Hierdie opinie is deur die beheerliggaam gevorm, waarin elke lid ‘n stem uitgebring het.

5.3 Volgens die WKOD het die unie geen bewys tydens die verhoor kon lewer oor doelbewuste benadeling van die klaer deur enige lid van die beheerliggaam nie.

6 . BESPREKING

6.1 Die klaer se suksesvolle bewering van ‘n onbillike arbeidspraktyk was daarvan afhanklik dat hy, op ‘n oorwig van waarskynlikhede, moes bewys dat die beheerliggaam onbillik opgetree het deur nie die voorgeskrewe prosedures korrek te volg nie, of deur doelbewus teen die klaer te diskrimineer.

6.2 Gegrond op die getuienis en argumente wat deur die partye tot die geskil aangebied is, is daar in my mening nie deur die beheerliggaam afgewyk van die spesifieke prosedurele vereistes vir die kortlysting van aansoeke soos vervat in die toepaslike resolusies en omsendskrywe 80/96 nie. Alhoewel die notule van die vergadering van 19 November 1999 meer volledig kon wees, aanvaar ek dat dit die belangrike besluite van die vergadering vervat.

6.3 Wat die bevoegheid van die beheerliggaam betref, het die klaer nie daarin geslaag om te bewys dat die betrokke beheerliggaam nie oor die nodige bevoegdhede beskik nie. Buiten die feit dat Resolusie 5 van 1998 nie tydens die betrokke proses van toepassing was nie, is die resolusie boonop nie voorskriftelik op die wyse wat deur die klaer aangevoer is nie. Die klaer het verder geen bewys gelewer oor die bevoegdheid of kundigheid van enige lid van die beheerliggaam nie. Ek aanvaar die WKOD se opinie dat die beheerliggaam wel oor die nodige kennis en ervaring beskik het om die kortlysproses te voltrek.

6.4 Die klaer kon geen bewese getuienis lewer dat die skoolhoof sy invloed sou gebruik het om hom uit te skakel nie. Inteendeel spreek die getuigskrif van die skoolhoof van sy hoë agting vir die klaer. Dit is my opinie dat lede van beheerliggaam individueel besluite geneem het oor die kortlysting, en dat die klaer in hulle opinie nie onder die beste kandidate geval het nie.

6.5 Die klaer het geen bevredigende bewys gelewer dat die kriteria wat tydens die kortlysting gegeld het hom sou benadeel het nie. Inteendeel het hy geargumenteer dat hy wel aan al die kriteria voldoen.

6.6 Dit is dus my bevinding dat die klaer ‘n reeks aantygings gemaak het, maar nie daarin kon slaag om enige daarvan voldoende te bewys nie.

7 . BESLISSING EN TOEKENNING

Vir die redes hierbo uiteengesit bevind ek dat die klaer nie daarin geslaag het om onbillike optrede deur die beheerliggaam of the WKOD te bewys nie. Ek wys dus sy eie van die hand, en beveel aan dat die WKOD voortgaan en die aanstellingsproses by Rosendal Primêr voltooi.




_______________________
ARBITER
BEN SCHOEMAN
Datum : 27 Junie 1999



EDUCATION LABOUR RELATIONS COUNCIL


ARBITRATION AWARD

CASE NUMBER PSES CAR 000147
APPLICANT A DELPORT
RESPONDENT DEPARTMENT OF EDUCATION
NATURE ONBILLIKE ARBEIDS-PRAKTYK
ARBITRATOR BEN SCHOEMAN
DATE OF ARBITRATION 25 JUNIE 1999
VENUE KAAPSTAD


REPRESENTATION:

APPLICANT MNR D D JOHNSON (SADOU)
RESPONDENT MNR C ESAU


AWARD:

Ek bevind dat die klaer nie daarin geslaag het om onbillike optrede deur die beheerliggaam of the WKOD te bewys nie. Ek wys dus sy eie van die hand, en beveel aan dat die WKOD voortgaan en die aanstellingsproses by Rosendal Primêr voltooi.


DATE OF AWARD 27 JUNIE1999
ADDRESS
261 West Avenue
Centurion
Gauteng 
0046
BUSINESS HOURS
8h00 to 16h30 - Monday to Friday
Copyright Education Labour Relations Council. 2021. All Rights Reserved. Created by 
ThinkTank Creative